Hoefslag-fees steun Treurgrond


Die Hoefslag-fees wat jaarliks as Noordwes se grootste plaas-makietie beskou word, het as mede-vennoot tot die vervaardiging van die rolprent Treurgrond toegetree. Hierdie fliek, wat die aandag opnuut op plaasaanvalle vestig, word op 29 Mei in teaters landwyd vrygestel, terwyl die fees op 26 September gehou word.


Die fees het ‘n wesenlike finansiële bydrae gelewer tot die maak van die fliek waarin Steve Hofmeyr die hoofrol as ‘n plaasboer vertolk .
Die rolprent is sedert einde verlede jaar vervaardig deur Phoenix Films met die bekroonde Darrell Roodt as regisseur. Hy het bekende flieks soos Sarafina! en Jakhalsdans die lig laat sien, asook Yesterday wat in 2004 vir ‘n Oscar-toekenning benoem is.
Volgens die hoof-organiseerder van die Hoefslag-fees, Piet Botha, was dié fees in die dertien jaar van sy bestaan, nog altyd ‘n katalisator om die gemoed van ons mense – veral plaasbewoners – op te beur. Dit was in tye van onsekerhede, misoeste en droogtes en in ander moeilike omstandighede steeds ‘n vaandeldraer vir bemoediging.


“Met die ondersteuning van hierdie fliek wil ons die fokus nou ook op die realiteit van misdaad en plaasaanvalle in die land vestig” ,sê Piet.
Adam Tas, die Klipwerf Orkes, Wicus van der Merwe en Armand Hofmeyr sal as hoofkunstenaars optree. Daar sal oudergewoonte ook skouspelagtige perdevertonings ,‘n veeparade en erfenisvertonings wees.
Die feesvenue Geyerspan is tussen Lichtenburg en Koster . Vir stalletjiebesprekings, kontak 076 662 3535. Algemene navrae by 072 265 1039 / 082 920 7443 / 072 273 6042.

Top of Form

Bottom of Form

Directory

Featured