Pret vir Oud en Jonk!

(deur Hennie Bason)

Vanjaar se Hoefslag-fees gaan beslis beter en groter as ooit wees met vermaak en bedrywighede vir die jongspan asook die ouer garde. Hierdie grootste plaasfees in Noord-Wes word op Saterdag 26 September op die plaas Geyerspan, tussen Lichtenburg en Koster gehou.

Met van die mooiste perde wat in verskillende skouspelagtige items mekaar vinnig afwissel en perdeliefhebbers wat vanuit alle provinsies en ook uit buurlande soos Namibië hierheen stroom, is hierdie ook 'n grootse perdefees wat enig in die land is.

Die fees het in 2002 as 'n beskeie Friesperddag begin met slegs sowat vyfhonderd toeskouers. Nou word dit gereeld deur meer as 3 000 mense bygewoon.

Benewens verskeie perdetipes, word groter betrokkenheid van veerasse beoog, asook groter klem op die wild- en jagbedrywe wat nou reuse aansien in die land geniet. 'n Spesialis-wildvleisslagter uit Namibië sal die gebruik van wildvleis in Duitse worssoorte demonstreer en wildsbiltong sal monde laat water. Die besoekers kan hul dors gaan les in die biertuin of kroeg asook by 'n kaas-en-wynproe.

Die kleuter- en jeugafdeling sal ook beter georgansieerd wees as in die verlede. Daar sal

'n verskeidenheid aktiwiteite vir kleuters aangebied word. Daar word selfs iets spesiaals vir kinders tussen die ouderdomme van 9 tot 16 jaar beplan. Onder andere is boogskiet en ponieritte op de program.

Vir die mense wie se voete jeuk en lagspiere beproef moet word, is hiérdie iets om na uit te sien. Die gewilde Klipwerf Orkes, Wicus van der Merwe, asook die Singende Ruiter, Armand van der Mewe, sal in die loop van die dag in die hoofarena optree. Vanaf 19:00 verskuif die aktiwiteite na Die Skuur waar Adam Tas asook boere-orkes optree. Die country-sangers: Mari Minnaar en Landman asook die begaafde Armand Hofmeyr, kuier saam tot laat aand.

PG du Plessis, 'n legendariese storerievertellers van die destydse Maak-'n-Las TV-program gaan die besoekers ook vermaak. 'n Direkte radio-uitsending en 'n geleentheid om sterre uit die film Treurgrond te ontmoet, is ook van die atiwiteite op die program.

Ossewaens en 'n volkspele-vertoning sal deel uitmaak van die erfenis-items. Outydse perde-rytuie en veteraan-trekkers gaan om die arena brul. Die land se sterkste man, Etienne Smit gaan weer sy kragtoertjies uithaal.

Vir verdere besonderhede, kontak Andries by 072 265 1039 of Hennie by 072 273 6042. Stalletjies kan by Johandré by 076 662 3535 bespreek word. Besoek ook facebook by Hoefslagfees Geyerspan.

Directory

Featured