heading-iconProfiel Van Die Organiseerder

Sedert die inisieerder en organiseerder van die jaarlikse Hoefslagfees hom drie dekades gelede in die Suid-Afrikaanse perdebedryf begewe het, het die naam van Piet Botha ‘n huishoudelike een in die plaaslike perdewêreld geword.

Nie net is die Hoefslagfees enig in sy soort wat op ‘n gereelde basis in die land gehou word nie, maar was Piet ook vir ander eerstes en uniekhede op sy Geyerspanstoet, in Noordwes verantwoordelik.

  • Hy was die persoon wat grootliks verantwoordelik was vir die vestiging van ‘n groot Friesperdbedryf in die noordelike provinsies van die land.
  • Die Geyerspan-Friesperdstoet het in ‘n stadium uit 450 Friesperde  bestaan wat dit die tweede grootste vir dié ras in die Suidelike Halfrond gemaak het.
  • Meer as veertig Friesperde is oor dié tydperk deur Piet vanuit Nederland ingevoer.
  • Hy was ook die eerste persoon wat perde van die antieke Norikerras na Suid-Afrika ingevoer het. Dit is swaar trekperde wat in Oostenryk gedy
  • Geyerspan huisves tans van die mees omvattende perde-kruisteelprojekte nog in die land.

Piet het by Gobabis in die destydse Suidwes-Afrika opgegroei en het teen die einde van die 1980’s die familieplaas by Gobabis verlaat en hom in die ou Wes-Transvaal tussen Lichtenburg en Koster kom vestig.Hier het hy aanvanklik ‘n saaiery bedryf, asook ‘n groenteboerdery.

In 1991 het hy sy eerste twee suiwer Hollandse Friesperde bekom en dit het aan die grootse Friesperd-eksodus uit die suide van die land momentum gegee.

Nuwe markte vir die plaaslike Friesperdbedryf is dus vanaf Geyerspan geopen, sy bloedlyne is nou lank reeds dwarsoor die land gevestig en hierdie plaas was en is steeds die wieg van talle Suid-Afrikaanse kampioen-Friesperde. Sy kruisings van Friese met perde van verskillende ander rasse is deesdae uiters gewild.

Piet en Hannetjie Botha het sewe kinders, nl. Monika, Hanneke, Charlotte, Annemarie, Karin, Hanelore en Hendrik. Hulle is jaarliks bekende gesigte op die Hoefslagfees.

Directory

Featured