Die grootste oorsaak vir die ongelykheid tussen mense in ons “wye en droewe land”, is die ongelykheid in die kwaliteit onderrig aan ons leerders. Daar is nie meer   ongelyke toegang tot onderwys of ongelyke besteding nie, maar in skreiende ongelykheid in die kwaliteit onderrig wat leerders in verskillende skole ontvang.   Ongeveer 75% van ons openbare skole is disfunksioneel.   Die hartseer implikasie van die geweldige hoë persentasie disfunksionele skole is dat juis dit wat vir sommige leerders hoop bring,   vir ander tot ‘n hopelose, uitsiglose lewe verdoem. Dit wat die minderheid bevoordeel, benadeel die res van die leerders. Dit wat goeie nuus is vir sommige, is baie slegte nuus vir ander. Juis dit wat ‘n groep leerders in ons land bemagtig , ontmagtig die grootste deel van ons leerders tot werkloosheid en afhanklikheid.

In die disfunksionele skole is die meeste leerders reeds in graaad 5 al twee jaar agter die leerders in goed funksionerende skole waar roetine, orde en ‘n werksetiek deel van die skooldag is. Navorsing van die RGN het getoon dat onderwysers in goedfunksionerende skole gemiddeld 6.5 uur per dag werk teenoor die 3.5 uur van die onderwysers in swak funksionerende skole. Die onderste disfunksionele skole lewer dan ook die top kriminele in ons land, want die leerders val in die skool al uit die sisteem en dikwels is kriminaliteit die enigste uitkoms wat vir hulle oorbly. Die onderwysnavorser Nick Taylor verwoord dit so: “The bad news in South Africa is that nearly 80% of schools provide education of such poor quality that they constitute a very significant obstacle to social and economic development, while denying the majority of poor children full citizenship. “

Die belangrikste manier om die ongelykheid in die kwaliteit onderrig in ons skole aan te spreek , is om dit ‘n saak van nasionale erns te maak dat alle leerders in elke klaskamer in ons land, kwaliteit onderrig sal ontvang.

Die vinnige positiewe reaksie van die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille op Opvoeder van Kaapstad se brief ( Die Burger 14 November 2014) asook die waardering en respek wat sy teenoor die Opvoeder toon, gee mens hoop, want haar ervaring van en insig in die onderwysproblematiek sal haar in staat stel om te onderskei wanneer politieke besluite lynreg ingaan teen gesonde opvoedingsbeginsels. Bekwame, hardwerkende onderwysers behoort met veel meer respek en waardering behandel te word en as professionele persone moet hul insette veel meer gewig dra.  

Hier is kortliks enkele voorstelle hoe ons gehalte-onderwys in elke klaskamer kan kry:

  • Raak ontslae van onbevoegde hoofde en lui onderwysers in swak funsionerende skole want hulle steel die toekoms van ons leerders. Die Onderwysdepartement moet so vinnig as moontlik die olifante in die woonkamer aanspreek:   Lui onderwysersbehoort afgedank te word en onbevoegde skoolhoofde vervang te word met mense wat opgewasse is vir die taak van skoolhoof. Geen politieke kontakte mag hier enige rol speel nie. Sadau se invloed in die verband is ongelukkig baie kontraproduktief vir kwaliteit onderrig.
  • Kyk met ‘n vergrootglas na die opleiding van onderwysstudente. Ons kan nie kwaliteit onderwys in elke klaskamer verwag wanneer die opleiding van onderwysers nie op standaard is nie. ‘n Onlangse verslag van die onderwysonderrig-navorsingsprojek het gevind dat die kurrikulum van onderwyskursusse by vyf instellings van Hoër Onderwys ontoereikend is en veral in Wiskunde en Engels word onderwysers nie toereikend opgelei nie. Dit is tegelyk hartseer en skokkend, want die vyf instellings lewer meer as 60 % van alle onderwys gegradueerdes op. Om kwaliteit onderwyskolleges te sluit was sekerlik een van die tragieste besluite van die ANC regering, ‘n politieke besluit wat duisende leerders se toekoms benadeel het. Verhoog die toelatingsvereistes vir onderwysstudente. Dit sal egter gepaard moet gaan met die verbetering van die onderrigklimaat in skole. Navorsing aan die Unviersiteit van Stellenbosch het getoon dat die belangrikste redes waarom leerders nie onderwys as ‘n beroep oorweeg nie is die gebrek aan respek vir onderwysers, die gebrek aan dissipline in skole en die feit dat onderwys vir talle onderwysers ‘n gevaarlike beroep geword het,
    • Daar moet gekyk word na die profiel van dosente wat klas gee vir onderwysstudente. Enige persoon wat betrokke is by die opleiding van onderwysstudente behoort met die een voet in die akademie en die ander voet in die onderwyspraktyk te staan en hulle moet dalk verplig word om elke vyf jaar vir ses maande te gaan skoolhou om die harde realiteit van die onderwyspraktyk eerstehands te beleef sodat hulle nie studente oplei vir ‘n realiteit waarvan hulle weinig weet nie.
  • Ons moet wegkom van die idee dat almal naskoolse akademiese opleiding moet ontvang,   want ons het nie net sielkundiges, filosowe en professionele mense in ons land nodig nie. Daar is ‘n tekort aan goeie ambagsmense soos loodgieters, motorwerktuigkundiges en ketelmakers.
  • Ons onderskat die voorkoms van leerprobleme heeltemal en faal daardeur ons leerders. Die remediërende onderwysers in skole is heeltemal oorwerk en bitter min nuwes word opgelei. Enige onderwyser sal bevestig dat ‘n leerder met ‘n leerprobleem wat nie vroegtydig gediagnoseer en reggestel word nie, ‘n leerder met ‘n gedragsprobleem en ‘n nagmerrie vir onderwysers word.
  • Moet nie leerders eenvoudig deurstoot wanneer hulle nie aan die vereistes van ‘n graad voldoen, net omdat hulle nie meer as een keer in ‘n fase mag druip nie.   Dit is oneerlik en onwys en die boodskap wat dit uitstuur is dat droogmakers deurkom en dat harde werk onnodig is. Soos die brief van Opvoeder van Kaapstad ( Burger 13 November) wys, kry hoofde en onderwysers opdrag oor hoeveel ( of liewer hoe min) leerders mag druip. Dit is ‘n politieke besluit wat nie opvoedkundig regverdig kan word nie en dit is een van die direkte oorsake van die verdomming van ons land asook van die siklus van middelmatigheid. Die gevolge van die oneerlike opwaartse “verstellings” van punte is dat uitnemendheid begin uitsterf, leerders ‘n onverantwoordelike, traag my nie agtige houding teenoor hul werk ontwikkel, universiteite en werkgewers al hoe minder waarde aan ‘n matrieksertifikaat heg en onsland internasionaal al hoe minder mededingend raak. Die feit dat ons, na die onlangse afgradering, net twee plekke bokant ‘n “rommel-ekonomie” geklassifiseer is, staan nie los van die oneerlike kunsmatige verstellings aan punte wat ‘n gebrek aan kwaliteit onderwys probeer toesmeer nie.

Veral met die opleiding van B Ed- graadstudente wat vir die senior primêre fase gaan skoolhou, is daar fout, want in plaas daarvan dat universiteite die graad gebruik om kwaliteit onderwysers op te lei en daardeur die siklus van middelmatigheid verbreek, slaag nie een van die vyf instansies hiermee nie.

Ons kan nie langer vir die regering wag vir oplossings nie.   Ons moet dringend self met onderwys-gemeenskapsprojekte begin en mentorskappe en vennootskappe vestig. ‘n Voorbeeld hiervan is die Partners for Possibility program van Symphonia waar suksesvolle sakeleiers en skoolhoofde hande vat ter wille van kwaliteit onderwys. So ook die Munisipaliteit van Stellenbosch se inisiatief om kernwaardes te vestig en karakter te bou in skole as deel van die Stellenbosch Vallei van Karakter projek.    

President Mandela het gesê dat onderwys die enginkamer van persoonlike ontwikkeling is en dat deur onderwys die dogter van ‘n arbeider ‘n dokter kan word en die seun van ‘n plaaswerker ‘n president. Dit kan egter net gebeur indien daar kwaliteit onderwys in alle skole is.   Volgens prof Russel Bothman breek n historiese Kairos- oomblik aan wanneer die gevaar so bedreigend raak dat mense besef dat hulle nou hoop móét skep. Ons beleef nou ‘n Kairos-oomblik in die geskiedenis van ons land. Kwaliteit onderwys vir almal is die Rosettasteen waardeur ons vir kinders weer hoop kan gee, werkloosheid kan verminder en ongelykhede kan aanspreek.   Maar die tyd raak min!

Jeanette de Klerk-Luttig

Opvoedkunige by die Kanoor vir Morele Leierskap by die Universiteit van Stellenbosch

Directory

Featured